Uithourit
Home Up Akkommodasie Besienswaardighede Uithourit Kalender Skole Mediese Sorg Sport Klimaat Werkskepping Galery Eiendom te Koop Terugvoer

     Daar vind jaarliks twee uithouritte op Fauresmith plaas:

Fauresmith 200

Louise Botha Stride Memorial Challenge

Fauresmith 200

Fauresmith 200 Endurance Ride               Fauresmith 200 Endurance Ride               Fauresmith 200 Endurance Ride               Fauresmith 200 Endurance Ride               Fauresmith 200 Endurance Ride

Die eerste uithourit was gehou as gevolg van 'n debat in die tydskrif Landbou Weekblad oor watter perderas die beste uithouvermoë het.  In 1964 het die Landbou Weekblad 'n uithourit georganiseer om die saak te besleg. 'n Uithourit is gereël vanaf Hanover oor te Aar, na Richmond en terug na Hanover.  In daardie dae was daar nie veeartse wat die perde ondersoek het, soos deesdae verpligtend is nie.  Die rit was 'n groot sukses, en die Arabierperd het as wenner uit die stryd getree.

In 1965 was daar chaos.  Na afloop van die uithourit is baie van die deelnemende perde vergiftig, vermoedelik deur persone wat nie die rit goedgesind was nie.  Ongeveer sestig perde het gevrek.

Die volgende uithourit was in 1973 op Fauresmith.  Die area en temperatuur leen hom uistekend tot die rit.  Gedurende die 1973 uithourit het sewentien ruiters deelgeneem.  Die getal het intussen gegroei na tussen 250 en 300 ruiters wat jaarliks deelneem.  

Na afloop van elke 25km, het die ruiters 20 minute om hul perde koud te lei, waarna hulle deur veeartse ondersoek word.  Hartklop en spiere word nagegaan, en perde wat ooreis is word gediskwalifiseer.

"n Uitstekende voorbeeld van die kameraderie en sportmanskap tussen ruiters, was tydens die 2003 uithourit, toe Laura Woods, toe 'n Junior Springbok-ruiter, halfpad deur die rit gestop het om 'n ander deelnemer te help wat geval het.

Die Fauresmith Internasionale Uithourit word as een van die moeilikste ter wêreld beskou.  Dit is nie die moeilikste as gevolg van die afstand nie, maar aangesien persone op drie agtereenvolgende dae lang afstande moet aflê.  Sommige ruiters staan selfs uurliks gedurende die yskoue winternag op om na hulle perde om te sien.

Veteraan ruiters soos Ami de Wet, Claire Amm en Chris Thiel keer jaar na jaar terug om deel te neem aan hierdie uitmergelende uithourit. 

[Back to Top]

Louise Botha Stride Memorial Challenge

Louise Botha Stride Memorial Challenge               Louise Botha Stride Memorial Challenge               Louise Botha Stride Memorial Challenge               Louise Botha Stride Memorial Challenge               Louise Botha Stride Memorial Challenge

Die Louise Botha Stride Memorial Challenge is ‘n volwaardige Internasionale Rit. Die rit is goedgekeur en word onder die beskerming van ERASA en die FEI gehou. FEI is die afkorting vir Federation Equestre Internasionale, wat in Switserland gebasseer is. Dit is die wêreldbeheerliggaam vir alle perdesport.

Die "Louise Botha" se uitslae verskyn op die wêreldranglys. Ruiters en perde word geranglys volgens prestasie. Die Louise Botha is een van die hoëgraadritte in die wêreld omdat ‘n 160km kompetisie aangebied word, wat as ‘n 3* rit bekendstaan.

Die rit het ontstaan toe Louise nog gelewe het. Sy was ‘n lid van die Koffiefontein Uithouritklub en het altyd gevoel daar behoort ‘n voorrit ook op Fauresmith te wees en nie net die Nasionale Kampioenskappe nie. In 2002 is besluit om die Randjiesveldrit te beplan. Die eerste rit het geskied met 25 perde.

Die volgende jaar het Louise siek geword, en die naam is verander na die ‘Louise Botha Challenge’. Die rit is as ‘n FEI 3* rit op die boeke geplaas. Na Louise se afsterwe het Stride as hoofborg ingetree, en die naam is verander na die "Louise Botha Stride Memorial Challenge". Die rit is ook die Vrystaat Uithouritkampioenskappe sedert 2007.

Tesame met hierdie Internasionale rit word ook ‘n ERASA afdeling aangebied waar perde van een vlak na die volgende geneem kan word sonder die spanning van kompeterend wees.

Om so ‘n taak aan te pak is die hulp en bystand van die plaaslike gemeenskap onontbeerlik, en daar laat die Fauresmith-gemeenskap nie in die steek nie. Die baan word beplan, gemeet en uitgelê, verblyf en spyseniering word gereël, en vele ander aktiwiteite word rondom die rit gereël. Die gewildheid en groei van die rit word vierkantig voor die die deur van die boere, besigheidsmense en instansies van Fauresmith geplaas. Almal se moeite en opofferings word opreg waardeer.

Die rit het gegroei vanaf 25 perde in 2002 na 200 (waarvan 130 weggespring het) in 2010.

Die dorp is enig in sy soort en staan as die "Uithourit-dorp" bekend in perdekringe. Gelukkig het die dorp tans twee groot geleenthede wat mense na die dorp trek.

Louise Botha was ‘n dogter van Fauresmith. Sy was deel van die groep wat die Fauresmith 200, asook die Louise Botha Stride Memorial Challenge begin het. Sy verdien om vars in almal se geheue te bly.

[Back to Top]

Send mail to the Webmaster with questions or comments about this web site.
Copyright © 2002 - 2013 WB Matthee & Associates
Last modified: 10 June 2013

                                          Proudly South African