Veldreserwe
Home Up Veldreserwe Algemeen Historiese Geboue Slagvelde Monumente Ander Fauna & Flora

Dr. Marguerite Getrud Anna Hendrici (1892-1971)Dr. MGH Hendrici is deur die Unieregering versoek om ‘n laboratorium en algemene uitleg vir ‘n unieke plantfisiologiese navorsingstasie met die klem op Karooplante te ontwerp, en in Fauresmith te vestig.

Hierdie navorsingstasie (In die omgangstaal as die "veldreserwe" bekend) is in 1929 voltooi en het bestaan uit 75 morg (meestal "koppieveld") dorpsgrond wat deur die stadsraad van Fauresmith aan die departement beskikbaar gestel is "sodat probleme i.v.m. Karooveld, maar tot ‘n sekere mate ook weiprobleme van die hele land, wetenskaplik bestudeer kon word". In 1930 is ‘n verdere 25 morg bygevoeg.

Met verloop van tyd is 72 kweekpersele, ‘n aantal groot saadpersele en 15 half- en een morg persele vir weidingsdoeleindes in die vlakte uitgelê. Die weidingspersele is gebruik om die drakrag van die bossies te toets, en vir proewe i.v.m. die herstel van die veld nadat dit afgesny of bewei is.

Karooplante asook ‘n paar inheemse grassoorte is gesaai of geplant. Die meeste aandag is gewei aan goeie karoo, vaalkaroo, die gannas, die verskillende soorte soutbosse, rivierdraaibos, klappiesbrak, groot berggansie, geel bergdraaibos en kerriebos. Die plante is uitgeplant in die verskillende persele. Daar is gereeld rekord gehou van die plante se bestandheid teen droogte en die tye wanneer hulle blom en vrugte dra. Daar is ook gereeld monsters vir volledige chemiese ontleding geneem.

Daar het sowat 50 publikasies uit die pen van dr. Hendrici verskyn, en die vygie Neohenricia is na haar vernoem.

Met haar aftrede in 1948 was haar werk oor Tribulus spp (die Karoo dubbeltjie) nog nie afgehandel nie. Met die sluiting van die navorsingstasie is dit ook nooit deur iemand anders voltooi nie.

Die veldreserwe bestaan steeds en daar was geen ontwikkeling op die grond sedert die sluiting van die navorsingstasie nie. Vanaf die uitkykpunt op die koppie buite die dorp kan die natuurskoon van die omgewing behoorlik gewaardeer word. Dr Hendrici het immers selfs die Prins van Oranje op hierdie uitkykpunt met ‘n middagtee getrakteer!

[Terug na Algemene Besienswaardighede]

Send mail to the Webmaster with questions or comments about this web site.
Copyright © 2002 - 2013 WB Matthee & Associates
Last modified: 10 June 2013

                                          Proudly South African