Slagvelde
Home Up Veldreserwe Algemeen Historiese Geboue Slagvelde Monumente Ander Fauna & Flora

Die volgende skermutselings het in en om Fauresmith plaasgevind 
gedurende die Anglo-Boereoorlog (1899 - 1902): 

Abrahamskraal

Kokskraal

Metz

Fauresmith

Abrahamskraal

Abrahamskraal is 25km suidoos van Koffiefontein geleë, en is nou grootliks deur die Kalkfontein Dam ingeneem.

Op die nag van 27 Januarie 1902, het Lt-Kol L.E. du Moulin kamp opgeslaan op die oewer van die Rietrivier oorkant Abrahamskraal, nadat hulle gedurende die dag ‘n Burgher kommando deur die drif gejaag het. Die wagte het daardie nag bestaan uit soldate wat op die koppies om die kamp geplaas is. Langs die klein plaashuis het die transportwaens gestaan, terwyl die perde op kraal was.

Om eenuur die oggend van die 28ste, het die wagte gehoor dat iets deur die water beweeg. Voordat hulle egter alarm kon maak, is die kamp aangeval. Die ingange na die kamp is oorgeneem, en ‘n groot aantal Burghers het die kamp binnegestorm. Binne oomblikke was die Burghers in beheer van die plaashuis asook die perde en wa-linies, en is elke donker hoekie met koeëls bestook.

Du Moulin, wat die nag in die plaashuis deurgebring het, het uitgestorm toe die eerste skote klap. Hy en ‘n paar man het ‘n teenaanval op die naaste Burghers geloods. Hy, sowel as ‘n paar ander soldate is dadelik noodlottig gewond. Die krale was egter teruggeneem. Die Britse soldate het ‘n doelgerigte teenaanval geloods, en teen 1.45 a.m. het die Burghers teruggeval. Brevet-Majoor A.R. Gilbert (Royal Sussex regiment) het bevel oorgeneem in die plek van du Moulin. Hy het vinnig nuwe verdedigingslinies opgestel.

Hierdie vinnige optrede was voordelig, aangesien ‘n tweede aanval binne die bestek van ‘n uur geloods is. Hierdie aanval is afgeweer, en is nie herhaal nie. Hierdie skermutseling het die Britte hul bevelvoerder en sewe man gekos, terwyl agt ander gewond is. 150 perde en muile is gebuit of vernietig. Drie Burghers het op die slagveld gesneuwel, en ongeveer ‘n dosyn gewondes is deur hul kamerade afgevoer. Die Burghers het die volgende dag vir Gilbert ‘n ambulans gevra vir die gewondes - Uit - The War in South Africa p 432.

[Back To Top]

Kokskraal

Wa-Asse deel van heining - KokskraalA.C. Hamilton het, nadat hy op ‘n kommando afgekom het aan die Bergrivier, dit teen sonop aangeval en sestien gevangenes geneem, waarna hy die res van die Burghers agtervolg het na Heen-en-Weerskop, ‘n vesting noordwes van Fauresmith. Die agtervolging het hom ver verwyder van sy transportwaens, wat deur sowat sestig man bewaak is. Die Burghers sou vinnig muntslaan uit hierdie fout.

Toe die waens by Kokskraal aankom, is hulle omsingel deur 250 Burghers onderInskripsie op wa-as - Kokskraal Hertzog en Niewoudt, die bevelvoerders van die distrik. Teenstand was buite die kwessie. Die handjievol wagte is in die oopte betrap, en Hamilton was ver weg. Binne oomblikke was die waens onder die Burghers se beheer, wat almal aan die brand gesteek het Daar is sewe-en-vyftig man gevange geneem. Daar was was vier ongevalle uit die geledere van die wagte, en vyf is gewond.

Die asse van die uitgebrande waens is later gebruik as pale in die lyndrade van die omliggende plase (Sien foto's).

[Back To Top]

Metz

"D" eskadron het ‘n skermutseling gehad by ‘n plaashuis waar ‘n Luitenant gedood en ‘n Sersant deur die been geskiet is. Daar is veertien Burghers gevange geneem. Luitenant Alexander is langs Troep Higgins begrawe. Higgins was die "pionier" (sy enigste plig was om die latrineput te grawe en later weer toe te gooi).

Twee maande later het die eskadron weer by die grafte verbybeweeg. Hulle het gevind dat die vlak grafte deur jakkalse of wildehonde oopgegrawe is en dat die gebeentes afgevreet en verstrooi was. Dit was a.g.v. die terrein nie moontlik om die grafte dieper as twee voet te grawe nie. Dit was vir die soldate ‘n raaisel hoe klein aasdiere die groot klippe wat op die grafte geplaas is kon verskuif. Die gebeentes is bymekaargemaak en herbegrawe.

Luitenant Alexander het in ‘n deur gaan staan met sy rewolwer en aangedring dat die Burghers oorgee. Hy is vanuit die huis doodgeskiet. Alexander het klaarblyklik vergeet om sy rewolwer te laai, aangesien dit leeg was toe die soldate dit optel. Uit - The War in South Africa p.122

[Back To Top]

Fauresmith

Op Fauresmith was ‘n klein garnisoen, wat bestaan het uit 117 soldate van die 2nd Seaforth Highlanders, 20 soldate van die Imperial Yeomanry en ‘n dorpswag van 17 man, almal onder bevel van kaptein A.B.A. Stewart, van die Seaforth Highlanders. Fauresmith word aan drie kante begrens met koppies, en was ‘n moeilike dorp om met so ‘n klein aantal soldate te beveilig.

Stewart het die Seaforth Highlanders bymekaar gehou op die koppie suid van die dorp, terwyl die Imperial Yeomanry onder bevel van Luitenant Richardson ‘n fortjie van klip en sandsakke beman het op ‘n randjie noord van die dorp. Om 4.15 a.m. op 19 Oktober 1900 was ‘n doelgerigte aanval teen die Seaforth Highlanders geloods. Die troepe het die aanval afgeweer en teen 8.30 a.m., nadat nege Britte gedood is, het die Burghers onttrek. Uit Times History of the War in South Africa 1899 - 1902 Vol II - LS Amery

[Back To Top]

 
Send mail to the Webmaster with questions or comments about this web site.
Copyright © 2002 - 2013 WB Matthee & Associates
Last modified: 10 June 2013

                                          Proudly South African